Mathematics Wiskunde

Maandag 5 November 2018

Wiskunde-studente vaar goed by IMC 2018

ICM2018

‘n Groep Wiskunde-studente van die Universiteit Stellenbosch het deelgeneem aan die 25ste jaarlikse Internasionale Wiskunde-kompetisie vir universiteitstudente wat van 22 tot 28 Julie 2018 in Blagoevgrad, Bulgarye, plaasgevind het. Meer as 350 studente uit 43 lande het deelgeneem aan dié Olimpiade-styl kompetisie met eksamens wat oor twee dae gestrek het. Deelnemers moes twee eksamens van vyf ure elk skryf, vir ‘n totale telling uit 100. Die tellings is dan van hoog na laag geklassifiseer, met die top twee-derdes wat eerste, tweede of derde pryse toegeken is. Die US-span, wat bestaan het uit ‘n derdejaar BCom-student, Lourens Van Niekerk, en drie BScHons-studente in Wiskunde, Sarah Selkirk, René Spoerer, en Robin Visser, is 54ste uit ‘n totaal van 70 spanne geplaas. Visser en Spoerer het onderskeidelik tweede en derde pryse behaal, terwyl Selkirk en Van Niekerk albei eerbare vermeldings ontvang het. Hul spanleier was Liam Baker, ‘n PhD-student in Wiskunde. ‘n Hoogtepunt van die reis vir die studente was ‘n besoek aan die beroemde Rila-klooster, ‘n kulturele, argitektoniese en godsdienstige landmerk in Bulgarye. Met haar terugkeer het Selkirk en Prof. Helmut Prodinger ‘n artikel geskryf wat deur een van die vrae in die kompetisie geïnspireer is – dit is aanlyn beskikbaar by https://arxiv.org/abs/1808.01907.