Mathematics Wiskunde

Dinsdag 16 Januarie 2018

Kranige wiskundige vereer met SAWV-toekenning

wagner

Prof. Stephan Wagner van die Universiteit Stellenbosch het die Suid-Afrikaanse Wiskundige Vereniging (SAWV) se toekenning vir uitstaande navorsing in 2018 ontvang.

Die SAWV-toekenning word slegs toegeken aan individue in Suid-Afrika wat ‘n belangrike navorsingsbydrae tot Wiskunde of die toepassing daarvan gelewer het. Dit is in die vorm van ‘n silwer Möbius-band met ‘n goue rand en gepaste inskrywing en is tydens die vereniging se gala dinee op 4 Desember 2018 oorhandig.

Prof Wagner is in Oostenryk gebore en het in 2006 sy PhD in Wiskunde aan die Graz Universiteit van Tegnologie verwerf. Hy het in 2007 by die US se Departement Wiskundige Wetenskappe aangesluit en het binne die bestek van slegs sewe jaar, in 2014, tot vol professor gevorder.

Hy geniet internasionale erkenning vir sy navorsing op die gebied van kombinatorika en verwante vakgebiede, met toepassings in fisika, chemie en rekenaarwetenskap. Hy het eens na hierdie veld as “bean counting” verwys, aangesien verskeie metodes gebruik word om te bepaal op hoeveel verskillende maniere iets gekombineer kan word, en wat die bes moontlike kombinasie sou wees.

Prof. Wagner spesialiseer veral in aftellende en asimptotiese kombinatorika, waar hy uitblink in die afleiding van eksplisiete formules, asook die toepassing van komplekse analitiese metodes om hul asimptotiese gedrag te beskryf.

Volgens die sitasie wat tydens die seremonie voorgelees is, is prof. Wagner een van net ‘n handjievol diskrete wiskundiges wat besonders vaardig is in die hantering van algebraïese, analitiese, stogastiese, en algoritmiese tegnieke: “Oor die jare het hy al verskeie moeilike vermoedes opgelos, eenvoudiger bewyse vir bestaande resultate gelewer, handige algebraïese en analitiese tegnieke ontwikkel, en verskeie nuwe fenomene ontdek, waarvan verskeie verrassend en onverwags was.”

Sedert 2006 het hy reeds meer as ‘n honderd navorsingsartikels gepubliseer, met meer as 400 aanhalings. Hy is betrokke by wiskundige kompetisies, in besonder die Suid-Afrikaanse Wiskunde Olimpiade. Hy is ‘n gerekende skaakspeler en speel vir die Stellenbosch Skaakklub en die Boland Skaak-unie.

Prof. Ingrid Rewitzky, hoof van die Departement Wiskundige Wetenskappe, het prof. Wagner vir hierdie “welverdiende nasionale erkenning van sy uitmuntende navorsingsbydraes” geluk gewens.

Prof. Leon van Wyk, afdelingshoof van Wiskunde, het gesê dit is ‘n merkwaardige prestasie vir so ‘n jong wiskundige. Prof Wagner is net 36 jaar oud.

Vorige wenners in die US se Departement Wiskundige Wetenskappe is prof. Helmut Prodinger (2003), prof. Barry Green (2007) en prof. Marcel Wild (2010).